Sedert die instelling van die SBID (‘Strand Business Improvement District) ‘n paar jaar gelede, heers die algemene mening dat die sakesentrum van die dorp beslis ‘n skoner en veiliger plek vir almal is, en statistieke bevestig dit ook.

Dit dek as ‘t ware die tafel vir die ‘Future Strand’-inisiatief om aan planne te werk wat die Strand hopelik ook ‘n nóg gewilder woon-, werk- en beleggingskeuse sal maak.

Die veiligheidsbeamptes van die SBID, algemeen bekend as ‘PSO’s, is altyd byderhand en gewillig om hand by te sit as ongelukke byvoorbeeld in hul mandaat-area gebeur. Verkeer word gereguleer, ‘n ogie word oor die toneel gehou totdat geskikte rolspelers opdaag en ‘n gerusstellende teenwoordigheid word gehandhaaf. Hulle gaan selfs verder as dit – soos toe hulle begeleiding aangebied het vir inwoners van die Alta du Toit-sentrum vir volwasse gestremde persone wat die dorp per trein besoek en toe as ‘n groep strand toe gestap het.

Volgens die SBID-bestuurder, Johan Erasmus, versoek die sentrum gewoonlik hulp en bystand van die veiligheidsbeamptes om die besoekers veilig na en van die strand te begelei. Dit stel hulle in staat om die see en vars lug op ‘n mooi dag sorgvry te geniet.

In skoolvakansietye is die veiligheidsbeamptes ook op hul poste om enige hulp of bystand te verleen wat moontlik benodig word. Só is gevalle van winkeldiefstal al gefnuik en is slagoffers van grypdiefstal ook al bygestaan en gesteelde goedere selfs aan hulle terugbesorg.

Dit behoort vir inwoners én besoekers gerusstellend te wees om te weet dat hulle veilig is terwyl hulle in die sakegebied en selfs by die strandfront rondbeweeg.
Skoonmaak

Die SBID verskaf ook ‘n skoonmaakdiens, deurdat werklose individue kragtens ‘n ooreenkoms met die ‘Turnaround’-organisasie van Strand drie dae per week hiervoor aangewend word.

Verfraaiing word soms ook deel van die roetine, en sodoende is die middedorp deurentyd skoon, veilig én aantreklik.